Vietnam - the personality cult of Ho Chi Minh

"Not all the water in the rough rude sea
Can wash the balm off from an anointed king."

Dié woorde van koning Richard II in Shakespeare se gelyknamige teks kom onwillekeurig by jou op wanneer jy by die lang, somber ry twee-twee inval om die leier in sy koel glaskas te besigtig.

Sy dood op 2 September 1969 het nie die einde van Ho Chi Minh, Viëtnamese vryheidsheld en persoonlikheidskultus van ’n verenigde nasie sedert 1975, gebring nie. Binne sy marmermausoleum op Ba Dinh-plein in die hart van Hanoi, is die kontras met die stomende somerhitte van 38˚ Celsius oorweldigend – so asof die onvermydelike verval en wegkalwe van die vlees met temperatuurbeheer vir ewig op ’n afstand gehou sal kan word.

In die gees van die Viëtnamese bevolking is Ho – ook bekend as Oom Ho – steeds die gesalfde leier waarvan die balsem nie afgewas kan word nie – al het sy land sedert die middel 1980’s stelselmatig ’n ekonomiese transformasie begin ondergaan wat die sterk kommunistiese fondament waarop Viëtnam sedert die vereniging van noord en suid gebou is, radikaal begin aantas het.

In ’n klein geboutjie agter die mausoleum kan besoekers deur die vensters kyk na sy Spartaanse slaap- en woonkwartiere en sy Peugeot 404-motor besigtig. Dis byna asof jy die tydgenootlike eenvoud van die sinkhuis van genl. Jan Smuts, eertydse premier van die Unie van Suid-Afrika, in die Irene-koppies verplant sien.

’n Besoeker wat glo in die beginsels van die demokrasie, kan nouliks tydens ’n besoek aan Viëtnam ontkom aan die magiese invloed wat die klein, skraal mannetjie met die grys bokbaard op sy mense en hul land steeds het nie, selfs 38 jaar ná sy dood. Wat die buitestander dikwels uit die oog verloor, is dat Ho Chi Minh nie die persoonlikheidskultus waardeur hy steeds as die verlosser van die nasie verheerlik word, self geskep het soos die leiers van Noord-Korea of ander Fasciste of Kommuniste byvoorbeeld gedoen het nie.

Omin daardie tou te staan voor sy mausoleum, is ’n studie in onbesonnenheid, een van die plekke wat enige toeris wat belang stel in menslike aardighede, ten alle koste móét besoek, ’n introspektiewe blik op ons spesies se verknogtheid aan eerbetoon, verheerliking, hagiografie, noem dié soort kunsmatige skepping van onsterflikheid wat jy wil.

Geen kameras, geen skamel geklede mense in kortbroeke word naby die Leier toegelaat nie. ’n Nederlandse man voor my lig die broekspyp van sy kniebroek op om te wys hoe onaanvaarbaar sy kortbroek onder dié een was. “Ek moes ’n respek-broek ten duurste by die stalletjie hier anderkant koop,” lag hy sardonies.

Loop mooi regop en moet niks woorde uiter binne die grafkelder nie. “No talk,” roep ’n wag ferm na ’n vrou agter ons wat ’n kwinkslag oor die verwerende toestand van die rooi mat op die grys marmertrappe kwytraak.

Die mausoleum se Fascistiese argitektuur herinner aan El Valle de los Caídos, die Vallei van die Gevallenes in de Guadarrama-vallei buite Madrid waar genl. Francisco Franco helde van die Spaanse burgeroorlog wou vereer. Of aan die grandiose planne wat Albert Speer, Hitler se argitek, beplan het vir die hoofstad van die Duisendjarige Ryk. Ho Chi Minh se kultusverering dra in die argitektoniese oordadigheid nog veel meer die herinneringe van Viëtnam se eeuelange stryd teen kolonialisme as wat Lenin se klein grafkelder in Moskou weerspieël. 

Minh is in 1890 gebore en het sy kultusstatus verwerf ondanks sy nederige bestaan waarin selfverheerliking nie juis plek gehad het nie. Wat hom ’n grafkelder in sy dood besorg het, was sy opstand teen kolonialisme, of dit nou die Chinese, Franse, Japannese of uiteindelik die Amerikaanse weergawe daarvan was. Sy besluite was nie altyd gewild nie, veral nie toe hy in 1946, nadat Japan se oorlogstirannie beëindig is en die Franse koloniale meesters hul eeulange oorheersing van die land voortsit, ’n ooreenkoms met Frankryk gesluit het.

Sy doel was om die Chinese besettingsmag uit Noord-Viëtnam te kry, want Ho Chi Minh het geweet die Chinese draak – wat Viëtnam meer as ’n millennium lank regeer het – was potensieel veel gevaarliker en permanenter as die Franse koloniale meerderwaardigheid, hovaardigheid en mission civilisatrice.

“Better to sniff a bit of French shit briefly than eat Chinese shit for the rest of our lives,” het hy aan die onversetlikes wat die Franse dadelik uit die land wou hê, verduidelik.

Die Chinese invloed in die land is egter steeds onmiskenbaar, veral in die Confuciaanse gedissiplineerdheid, die respek vir gesag en kennis, in die netjiese uniforms van die skoolkinders, hul lang skoolure, in die kleinwinkeliers wat tot saans ná tien in hul besighede werk. Die Amerikaanse joernalis Stanley Karnow, wat jarelank in Viëtnam gewoon het en op wie se boek die PBS-televisiereeks oor Viëtnam gegrond is, wys daarop dat China, soos Frankryk later, “die gebied geïntegreer het op maniere wat herinner het aan Rome se kontemporêre benadering teenoor sy dominiums.”

In die skole is Chinees gevestig wat die taal geword het van die geleerde en hoër klasse, net om later deur Frans as nuwe prestige-taal vervang te word. Die probleem wat China, Frankryk en later ook Amerika ondervind het, was dat dit die Viëtnamese eenheidskarakter so deeglik onderskat het, dat hulle gedink het dit bestaan uit ’n klomp arm landbouers wat net hul ryslande wou bewerk en in vrede gelaat wou wees.

Ho Chi Minh, gebore in die Nghe An-provinsie in sentraal-Viëtnam, het ’n wêreldreisiger geword en die land in 1911 op ’n Franse vragskip, die Amiral Latouche Tréville, vanuit Saigon verlaat. Hy het eers in 1941 teruggekeer, dié keer vermom as ’n Chinese joernalis.

Al was hy drie dekades in die buiteland, het Ho Chi Minh se nasionalistiese gevoel oor Viëtnam – Karnow beskryf Viëtnam as “sy obsessie” – in hierdie jare gevorm. Niks kon in die pad van hierdie obsessie kom nie en Karnow vertel in sy aangrypende boek, Vietnam – A History, hoe Ho by die dood van sy broer in 1950 om vergiffenis gevra het dat hy nie die begrafnis kon bywoon nie omdat hy “familiesake moes opoffer vir sake van die staat.”

Die ironiese invloed wat Amerika, waar hy langer as ’n jaar gewoon het, op sy denke gehad het, is ook op die altaar van die persoonlikheidskultus geplaas: sy volgelinge het gerieflik vergeet dat toe Ho in 1945 op die Ba Dinh-plein waar sy mausoleum vandag staan, Viëtnam onafhanklik van Frankryk verklaar, sy toespraak ’n gedeelte van die Amerikaanse Vryheidsdeklarasie van 1776 ingesluit het. Vandag, meer as drie dekades nadat die Amerikaanse ambassadeur weggevlieg het in sy helikopter vanaf die dak van die Amerikaanse ambassade in Saigon met desperate Viëtnamese hande wat in die skroefwind gryp, het Amerika weer ’n ekonomiese “vriend” geword – al praat Viëtnamese nog plek-plek neerhalend van die “Americans” in hul museums en in die woude by die tonnels van Cu Chi.

Later sou lang jare in Engeland, Frankryk, Rusland en China volg, almal met hul kermerkende invloede op Ho se denke. Maar dat hy uiteindelik die kommunisme gekies het wat vandag in heelwat gewysigde vorm steeds in Viëtnam geld, en nie suiwer nasionalisme nie, lê ook in die geskiedenis van Viëtnam vasgebed, en veral in die wyse waarop die Franse koloniale administrasie die land geplunder het.

“Dié primitiewe Franse kapitaliste het Viëtnamese nasionaliste tot uiterstes gedryf. Viëtnamese gematigdes is deur die Kommuniste, wat die mees hardnekkige vyande van kolonialisme geword het, uitoorlê. Ho Chi Minh het dié verskynsel verpersoonlik. Hy mag, soos Gandhi, ’n dissipel van passiewe weerstand gewees het. Maar Franse onversoenlikheid het hom tot geweld gedryf,” skryf Karnow.

In ’n pamflet, Franse Kolonialisme in die Beskuldigdebank, het Ho tydens sy verblyf in Frankryk die land se koloniale beleid beskryf as “die figuur van Geregtigheid wat so ’n rowwe reis van Frankryk na Indochina gehad het dat sy alles verloor het behalwe haar swaard.”

Dat Ho Chi Minh ses jaar dood was voordat Noord-Viëtnam uiteindelik verenig is met die Suide, het miskien bygedra tot die balseming van sy kultus. Soos Moses was die ideaal van die beloofde land hom nie beskore nie, maar wat op die oomblik in Viëtman gebeur met ’n land wat besig is om uit die as van drie groot oorloë soos ’n veelkoppige draak te verrys, geskied miskien juis omdat die aard van Viëtnam so misleidend is.

Karnow haal die Franse sosioloog Paul Mus aan wat kort voor die verpletterende neerlaag van die Franse by Dien Bien Phu in 1954 gewaarsku het teen die “gerieflike denkbeeld” dat die Viëtnamese landbouers ’n “passiewe massa was, net geïnteresseerd in hul daaglikse koppie reis, en geterroriseer tot onderdanigheid deur agente”.

Hul “toewyding tot nasieskap is lank voor dit reeds gevorm,” ’n feit wat Ho Chi Minh besef het en tot maksimum effek teen die Franse en Amerikaners aangewend het. Maar hy het ook dikwels die waansin van die oorlog waarin partye van albei kante gruweldade gepleeg het, veroordeel. Sy waarskuwing aan sy partygenote tydens die Kommuniste se kongres in 1947, geld vandag steeds as nugtere boodskap dat ideologie nooit belangriker as die waarheid kan wees nie, ’n tydige vermaning vir enige politieke party wat sy geledere sluit teen kritici en so die waarheid daardeur in die slag laat bly.

“ ’n Party wat probeer om sy foute te bedek moet ’n verdorwe organisasie wees. ’n Party wat dapper sy foute erken en die redes aantoon en ook onder watter omstandighede die foute geneig is om gemaak te word, en om alle toekomstige moontlike weë te vind om dit reg te stel, behoort ’n gevorderde en egte organisasie te wees.”

Hy mag stil in die somber, skemeragtige glasomhulsel lê, sy hande mooi uitgestrek op sy laer buik en heupe, maar die balsem van sy invloed het nog ’n daadwerklike uitwerking op sy nalatenskap. Vir hoe lank nog, weet ’n mens nie want meer as 33% van die bevolking is jonger as 15 met geen ondervinding van die jarelange stryd wat Ho Chi Minh so ’n verheerlikte gemaak het nie.

Pres. Lyndon Johnson van Amerika het die enigma van Ho Chi Minh in die hitte van die oorlog goed verwoord en in sy woorde lê miskien die rede opgesluit waarom Viëtnam miljoene mense in die stryd teen kolonialisme kon opoffer. “Ek ken hom nie. Ek ken nie sy voorgeslagte of sy kultuur of sy oortuigings nie. Dit is moeilik, baie moeilik,” skryf Karnow.

Met die ongekende groei en optimisme wat vandag oral in die land waarneembaar is, is N.P. van Wyk Louw se woorde, “ ’n Volk wat uit ’n koloniale bewussyn losskom, aan watter muf klein wêreld ontsnap hy!” miskien deeglik waar geword vir Viëtnam.

  • George Claassen is a South African science journalist.

 

Written by Super User