Tanzania - in the footsteps of the first humans

“Die mensdom, Homo sapiens, die wyse man, het uit voorsate ontwikkel wat nie mense was nie… ”

Hierdie woorde van die groot Russies-Amerikaanse genetikus, Theodosius Dobzhansky, doem onvermydelik by jou op as jy in die stof van Oos-Afrika se Groot Slenkdal stap, omring deur vulkane wat naby en ver op die horison waak.

 “Die mens het ontwikkel tot sy huidige staat vanuit een selfs meer barbaars, nie noodwendig meer boosaardig nie, maar beslis vanuit ’n dom en irrasionele een,” skryf Dobzhansky, die Charles Darwin van die 20ste eeu, in sy filosofiese werk, The Biology of Ultimate Concern.

Suid-Afrikaners begin danksy die kettings van apartheid wat verwyder is, Oos-Afrika van vooraf ontdek en dit is veral bestemmings soos Kilimanjaro, Serengeti en Ngorongoro in Tanzanië en die hoogland van Kenia wat in gewildheid toeneem. Maar Suid-Afrikaners begin hul ook in beduidende getalle, danksy sake-inisiatiewe van groot instellings soos Absa, Shoprite en Engen, weer in Oos-Afrika vestig – ’n eeu nadat talle Bittereinder-families met ver-Afrikaansde vanne soos Boshoff, Pienaar, Trichardt en De Villiers hier kom woon het om Engelse oorheersing ná die Anglo-Boere-oorlog te vermy.

Die Groot Slenkdal – Great Rift Valley – is egter nog ietwat onontdek deur toeriste wat hul haas om Kilimanjaro, die hoogste berg in Afrika, saam met duisende ander te bestyg. (Oor die onbeheerde wyse waarop die berg stelselmatig deur mense wat min omgee vir die natuur vertrap en bemors word, kan ’n mens vanuit ekologiese oogpunt heelwat skryf).

Vir meer as 3 000 km (1 800 myl) strek die Groot Slenkdal vanaf die Dooie See in Jordanië en Israel, suidwaarts tot by Mosambiek. Vandag is dit een van die beste voorbeelde van die Switserse wetenskaplike Alfred Wegener se vroeg 20ste eeuse teorie dat die kontinente eers een groot kontinent, Pangaea, was wat danksy tektoniese plaatbewegings – die teorie van kontinentale beweging is in 1965 deur die Kanadees John Tuzo Wilson bewys – in verskillende kontinente opgebreek het.

Die Groot Slenkdal is ’n geologiese depressie in die Aarde se kors wat geleidelik ontwikkel het weens onder andere vulkaniese uitbarstings en aardbewings en die Dooie See, Rooi See, die Golf van Akaba, en talle mere suidwaarts in Afrika tot gevolg gehad het.

Die verskuiwingslyn wat die Groot Slenkdal in die Aarde se kors vorm, is op plekke selfs tot 50 km breed – selfs die ongeoefende en oningeligte oog van nie-wetenskaplik ingestelde mense kan dit duidelik waarneem in die meeste plekke.

Wat jou meer as enige iets anders opval wanneer jy die pad van Arusha suidwaarts volg en by Makayuni weswaarts wegswenk af in die boesem van die Groot Slenkdal in, is die horison van vulkane. Agter jou troon Kilimanjaro – in werklikheid drie afsonderlike pieke in verskillende stadiums van verwering en vulkaniese aktiwiteit – in die ooste, ’n byna bedreigende karbonkel wat uitstyg bo die kors van Afrika.

Kilimanjaro se drie pieke, Shira in die weste (3 962 m), Mawenzi in die ooste (5 149 m) en Kibo, die bekende vulkaan wat almal deesdae wil klim (5 896 m), bied ’n blik op die geologiese ontwikkeling en verval van berge. Dit is saam met tientalle ander vulkane in die Pleistoseen-tydperk ongeveer 1,64 miljoen jaar gelede met die Groot Slenkdal gevorm, maar Shira en Mawenzi is dormante en verweerde vulkane wat meer soos draketande lyk, terwyl Kibo sy laaste uitbarsting ongeveer 100 000 jaar gelede gehad het. Vandag is Kibo wel gedeeltelik dormant, maar tog ’n aktiewe vulkaan wat steeds swaweldampe in sy groot krater vrystel waar fumaroles (rookgate) in die Aspit sigbaar is en die hitte wat dit afskei duidelik gevoel kan word – ’n sluimerende reus bokant die vlaktevloer van die Groot Slenkdal wat die tuiste was van die mens se eerste voorsate miljoene jare gelede.

“We are the scatterlings of Africa,” sing Johnny Clegg, wat as opgeleide argeoloog aan die Universiteit van die Witwatersrand, in die tradisie van Dart, Broom en Tobias, iets van die mens se herkoms uit Afrika verwoord. En die Groot Slenkdal se vulkane lê soos groot pitswere gestrooi langs die rif van die dal: van Kilimanjaro, wat eintlik bo en effens buite die rif troon, weswaarts na Meru (4 566 m) met Arusha aan sy hange, en Ol Doinyo Lengai, die aktiewe heilige berg van die Maasai (2 891 m), selfs verder noordwes.

So strek meer as twintig vulkane noordwaarts, almal getuies van die vroeë menslike voorsaatspesies Australopethicus boisei wat die Leakeys in Oldupai-kloof ontdek het.

Oldupai, ’n Maasai-woord ­– Ol beteken plek en dupai sisal, verwysende na die endemiese sisal wat hier voorkom – is deur wetenskaplikes ver-Europees na Olduvai, maar as Wêreld-erfenisgebied, is daar onlangs teruggekeer na die Maasai-woord.

Oldupai lê ongeveer 30 km noord van Ngorongoro, wat een van die beste voorbeelde is van ’n kaldera of kratervulkaan. Maar Oldupai bly hoofsaaklik onontdek deur toeriste: van die meer as 700 000 wat Ngorongoro jaarliks besoek, maak net ongeveer 30 000 ’n draai by die 50 km lange kloof waar Louis en Mary Leakey en hul seun Jonathan, en ’n jong Suid-Afrikaanse wetenskaplike, Phillip Tobias, die belangrike nuwe spesies Homo habilis in 1964 geïdentifiseer het.

Oldupai het hoofsaaklik drie hominiede-spesies opgelewer: Australopethicus boisei, Homo habilis, en Homo erectus.

Oor hoe hulle op die naam gekom het van die nuwe spesies wat Mary Leakey een middag toevallig diep in die kloof ontdek het, skryf Tobias in sy outobiografie, Into the Past – A Memoir (Picador Africa). Toe Louis Leakey, John Napier en Tobias hul artikel wat die vonds die eerste keer wetenskaplik beskryf het vir ’n uitgawe van die tydskrif Nature voorberei het, moes hulle ’n naam vind vir die nuwe Oldupai-spesies.

“Ek was een van die driemanskap van wetenskaplikes wat besef het dat een of ander hominiede-spesies, wat Mary en (oudste seun) Jonathan Leakey in Oldupai-kloof in Tanzanië ontdek het, nie behoort het tot enige van die bekende spesies van die menslike familie nie. In plaas daarvan het ons ’n nuwe spesies geskep en ons gewend tot (Raymond) Dart vir ’n naam (Dart het die Taung-skedel in 1924 in ’n kalk-groef in die huidige Noordwes-provinsie ontdek en dit Australopethicus africanus gedoop)… Tot ons vreugde het hy die eenvoudigste, kortste naam wat hy ooit kon vind, uitgedink: habilis, wat vaardig of behendig beteken – want ek het aan Dart vertel dié skepsel was waarskynlik die vervaardiger van die oudste Oldopaise klipwerktuie. Gepas dus was Homo habilis die vroegste ‘nutsman’ .”

Die Groot Slenkdal kan nêrens mooier en duideliker waargeneem word as van bo-op die rif bokant die Manyara-meer, suidoos van Ngorongoro, nie. Manyara is, soos die Natron-meer aan die voet van Ol Doinyo Lengai en talle ander mere wat in die Slenkdal se vloer ingebed lê, ook die Magadi-meer binne in die Ngorongoro-krater, ’n sodameer. Natron is, soos die paleontoloog Richard Fortey van die Britse Natural History Museum in sy wonderlike boek, The Earth – An Intimate History (HarperCollins) aantoon, ’n ou naam vir gehidreerde soda en het sy merk gelaat in die chemiese simbool vir sout, Na.

“Die Groot Slenkdal het ’n ander rol in die geskiedenis gespeel,” skryf Fortey. “Wildslewe het miljoene jaar daar gedy en, in agtervolging daarvan, het ons nabye voorsate en familie regop tussen die bosse en bome geloop. As Afrika die wieg van menslike evolusie was, was dit rondom die mere en vulkane in die groot vallei dat die bene en artefakte van ons voorsate die beste kans gehad het om bewaar te kon gebly het. Ekspedisies na die Turkana-meer in die Ethiopiese Slenkdal het fossiele ontdek wat gewys het dat die hominiede-geskiedenis nou bereken moet word in verskeie miljoene jare. Dit was hier wat ons geskiedenis sy werklike komplekse aard begin vertoon het –dat daar baie verskillende diere in die familie van Homo sapiens was, uit wie ons, alleen, uiteindelik ontstaan het.”

Suid-Afrikaners kan gerus op hul voorsate se spore in die Groot Slenkdal van Tanzanië en Kenia gaan stap. Die dal lê groots en byna antiek-intimiderend bo van Kibo en Kilimanjaro se kraterrif - of bo van enige van die ander vulkane in die omgewing van Oldupai.

  • George Claassen is a South African science journalist (This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Your details
Travel Dates
What would you like help with?
Made with BreezingForms for Joomla!® by Crosstec

 

Written by Super User