Tanzanian Fossils

“DIE Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog,” vertel die profeet Esegiël (Esegiël 37) oor die dorheid en hopeloosheid van die menigtes van Israel.  

Beendere se herkoms as profetiese dolosse wat aan moderne wetenskaplikes vandag die verhaal van die mens se evolusionêre ontwikkeling uit ander spesies vertel, het miljoene jare voor Esegiël se hallusinasie in die woestyn reeds neerslag in die Aarde se geologiese tekstuur gevind. Die verhale wat beendere oor ons verlede meedeel, het die afgelope eeu van die belangrikste wetenskaplike openbarings geword waardeur kennis oor die ontstaan en uitsterwing van spesies bekom word. Vandag roep die fossiele in die klip, vulkaniese as, stof en rotse van Afrika kennis oor die mens se herkoms in Afrika uit. Die kontinent is in die laaste dekades van die 20ste eeu deur sy beendereskat en die genetiese kartering van die Aarde se verspreide mensdom geïdentifiseer as die geboorteplek van Homo sapiens sapiens ­– en só het die mite dat die mens uniek geskape is in die stof van wetenskaplike feite gebyt wat die spesies onlosmaaklik verbind met ander primate.

“ ’n Evolusionêre perspektief van ons plek in die geskiedenis van die Aarde herinner ons datHomo sapiens sapiens die planeet vir die kleinste fraksie van daardie planeet se vier en ’n half duisendmiljoen jaar van bestaan geokkupeer het. Op baie maniere is ons ’n biologiese toevalligheid, die produk van ontelbare gunstige omstandighede,” skryf die paleontoloog Richard Leakey, gebore en getoë in die fossielryke Groot Slenkdal van Oos-Afrika, en die wetenskaplike Roger Lewin, in Origins: What New Discoveries Reveal about the Emergence of Our Species and its Possible Future.

“As ons terugblaai deur die fossielrekord, deur laag op laag van reeds lank uitgestorwe spesies, waarvan baie veel langer geleef het as wat die menslike spesies waarskynlik ooit sal voortbestaan, word ons herinner aan die sterflikheid van ons as spesies. Daar is geen wet wat verklaar dat die menslike dier verskil, soos beoordeel in die breë biologiese perspektief, van enige ander dier nie. Daar is geen wet wat bepaal dat die menslike spesies onsterflik is nie.”

By Oldupai-kloof, waar Richard en Mary Leakey drie menslike voorsaatspesies ontdek het (Australopithecus boiseiHomo habilis en Homo erectus ), en Laetoli, beide in die Groot Slenkdal van Tanzanië, het die menslike spesies en hul voorsate deur moderne wetenskaplike rekonstruksietegnieke letterlik vlees geword.

Mary Leakey se werk by Laetoli, soos Oldupai op die westelike rand van die Groot Slenkdal, het in 1978 een van die belangrikste skakels tussen die moderne mens en sy evolusionêre voorsate geword. Hier het sy ’n reeks voetspore (later geïdentifiseer as dié vanAustralopithecus afarensis) gevind wat tussen 3,5 en 4 miljoen jaar gelede in die vulkaniese as van die Sadiman-vulkaan gelaat is. Wat die voetspore veral ontbloot, is van die eerste direkte bewyse van ’n spesies wat op twee bene geloop het, ’n groottoon wat na die voorkant van die voet wys en nie sywaarts soos die duimagtige groottone van ander primate nie, en ’n voetbrug wat geboë en nie plat is nie soos dié van byvoorbeeld sjimpansees, ons naaste primaatverwant  – alles om die looproses op twee bene makliker te maak.

“Die fossielbewyse vir die oorsprong van die mens kan teruggevoer word na die oorsprong van die primate, die taksonomiese orde waaraan ape en mense behoort,” skryf die wetenskaplikes Chris Stringer en Peter Andrews in hul standaardwerk, The Complete World of Human Evolution.

Hulle wys op die gaping in die fossielrekord, veral van ape in die periode tussen 12 tot 8 miljoen jaar gelede in Afrika, maar benadruk een van die grondliggendste beginsels in die wetenskaplike soektog na ons verlede: die afwesigheid van bewyse beteken nie noodwendig bewys van afwesigheid nie.

“Die Afrikarekord (van fossiele) hervat ná 7 tot 8 miljoen jaar gelede met hominied-fossiele van Tjaad en Kenia... Ná 4 miljoen jaar gelede begin die hominien-rekord gevul word met fossiele wat goeie bewys lewer van tweevoetige (regoplopende) beweging. Volgende op die eerste erkende steentydperk artefakte, maak die eerste spesies van ons genus, Homo, ongeveer 2 miljoen jaar gelede hul verskyning, onderskeibaar deur ’n groter breingrootte en bewyse dat hulle vleisetend was. Kort hierna verlaat een of meer van die vroeë Homo-spesies Afrika vir die eerste keer. In ’n sekere opsig volg evolusie hierna verskillende paaie in Afrika, Oos-Asië en Europa, tot die laaste belangrike gebeurtenis in die evolusie van die mens plaasgevind het toe ons spesies, Homo sapiens, in Afrika ontwikkel het en hiervandaan begin versprei het om die res van die Aarde te bevolk,” skryf Stringer en Andrews.

Die ontluiking van moderne genetiese studies dra vandag in ’n groot mate by om die fossielrekord aan te vul, te bevestig en die verbandskap tussen die primatespesies aan te toon. Ten spyte van drukgroepe buite die wetenskappe wat ’n skeppingsproses voorstaan en propageer sonder evolusie, en danksy die rol wat fossiele, genetika en genoomkartering speel in die bevestiging van Charles Darwin se evolusieteorie, aanvaar die moderne wetenskap vandag die teorie as die grondslag van biologiese wetenskap.

“Evolusie is die grammatika van biologie; dit is onmoontlik om die vakgebied daarsonder te bestudeer, nes dit onmoontlik sou wees om ’n taal sonder grammatika te leer,” plaas die Britse genetikus, Steve Jones, evolusie as wetenskap in perspektief. “Evolusie is vandag so onvermydelik soos swaartekrag.” Jones is die skrywer van belangrike pryswennende boeke soos Almost Like a Whale – The Origin of Species Updated en The Language of the Genes.

Dat die fossielrekord dikwels onvolledig is, is toe te skryf aan verskillende faktore waaroor Moeder Tyd die onvermydelike sambreel sprei. Mense wat steeds glo die Aarde is net 6 000 tot 10 000 jaar oud, ignoreer die bevindings van die wetenskap wat deur moderne dateringstegnieke bewys dat lewe op Aarde reeds ongeveer 4 miljard jaar bestaan - 400 000 keer langer as hul geskrifte sê. Een van die grootste versperrings in die weg van ’n begrip van evolusie, so visueel geïllustreer as wetenskaplike feit deur die duisende fossiele,  is ons onvermoë om ’n konsep te vorm van hóé lank dit vir die mens was om te ontwikkel tot waar ons vandag is.

“As die 4 miljard jaar sedert lewe op Aarde ontstaan het ’n somersdag was, sou die afgelope 200 000 jaar waarin die ontwikkeling van anatomies moderne mense plaasgevind het, asook die oorsprong van ingewikkelde taal, van kuns, godsdiens, en handel, die geboorte van landbou, van stede, en alle geskrewe geskiedenis - ingepas het in die flits van ’n vuurvliegie net voordat die son sak,” skryf Carl Zimmer in Evolution: The Triumph of an Idea -- from Darwin to DNA.

Darwin het self benadruk dat dit vir die mens moeilik is om die konsep van tyd te begryp: “The lapse of time has been so great as to be utterly inappreciable by the human intellect,” skryf hy in The Origin of Species. Hóé moeilik, blyk uit ’n praktiese voorbeeld, wat terseldertyd aantoon hoe minimaal kort ons eie bestaan op Aarde is:

Verbeel jou ’n boek van 450 bladsye (ongeveer so dik soos die Nuwe Testament) verteenwoordig al die jare sedert die ontstaan van die Aarde, ongeveer 4,5 miljard jaar gelede. Elke bladsy verteenwoordig 10 miljoen jaar. As elke bladsy uit 50 reëls bestaan, sal elke reël wat jy lees 200 000 jaar neem. As elke reël 50 letters bevat, sal elke letter 4 000 jaar voorstel. Die buiteblad sal onlangse tyd, soos neergeskryf sedert die ontstaan van alfabette, verteenwoordig. Die moderne Westerse kalender begin met die geboorte van Christus, net ’n halwe letter gelede in vergelyking met ’n boek van 450 bladsye wat die ontstaan van lewe op Aarde en die evolusie daarvan verteenwoordig.

Dateringstegnieke wat wetenskaplikes vandag in staat stel om besonder noukeurig te bepaal hoe lank gelede ’n spesifieke fossiel gelewe het, sluit in radiokoolstof-datering (vir fossiele minder as 40 000 jaar oud), verskillende uraan-dateringstegnieke soos om fossiele in ’n gammastraalteller te plaas (vir fossiele en voorwerpe soos rotse tussen 1 miljoen en 4,5 miljard jaar oud), geomagnetiese polariteit-tydskale (vir minerale tussen 780 000 en 200 miljoen jaar oud), en elektroniese spinresonansietegnieke (vir die bepaling van die ouderdom van minerale, tand-enamel, skulpe en koraal tussen 1000 en 1 miljoen jaar). Soos Stringer en Andrews aantoon, speel die rekenaar vandag ’n uiters belangrike rol om groot stelle data wat van fossiele verkry word, vinnig saam te stel en te ontleed.

Tafonomie is die studie van hoe bene of ander reste van die diere- en planteryk behoue bly om fossiele oor tyd te word. Van dié faktore is die toestand waarin die plant of dier verkeer het tydens afsterwe, of dit blootgestel is aan roof- en aasdiere wat die bene oor ’n groot gebied kon opgevreet of versprei het. Dan is daar nog die blootstelling aan die son, wind, reën, ys en ander elemente van die weer en die Aarde se chemiese samestelling. Dit alles kan oor miljoene of honderdduisende jare veroorsaak dat beendere en skelette totaal tot niet gaan of net stuk-stuk oopgegrawe word. Dat soveel fossiele – sommige berekenings stel dit dat meer as 250 000 fossiele al die afgelope 100 jaar gevind is – ná soveel miljoene jaar behoue bly, is eintlik hoogs merkwaardig.

Die voormalige Harvardse paleontoloog Stephen Jay Gould beskryf in Wonderful Life die lewe as ’n oorvloedig vertakkende bos, wat voortdurend deur die sekel van uitsterwing gesnoei word; dis nie ’n leer van voorspelbare vooruitgang nie.

Hoe Homo sapiens se denke oor honderdduisende jare ontwikkel het om sosiale interaksie te bewerkstellig, om komplekse kommunikasieprosesse te skep wat uiteindelik as taal bekend staan, om gode en godsdienste te skep wat hulle kan beoefen en aanbid om die onvermydelike dood te probeer weghou - dit is alles antwoorde wat die fossielrekord van Oos-Afrika se Groot Slenkdal, van Sterkfontein, Blombos, Bahr el Ghazal, Makapansgat, Turkana, Omo, Hadar, Malema, Lothagam, Kanapoi, Swartkrans, Kromdraai en Taung nie kan gee nie.

Want, soos Jones tereg opmerk, “laat die menslike verstand geen fossiele na en het dit geen familielede nie”; taal en die mens se ingeboude denkprosesse en verlange om te aanbid, is nie die soort verskynsel wat in die vorm van fossiele fisieke spore nalaat nie, tensy dit simbolies neergeskryf word in een of ander skrif. Taal het meer as ’n honderduisend jaar voor die eerste skrifstelsel ontstaan, godsdiens waarskynlik veel korter gelede.

Vandag is die werk wat bevolkingsgenetici soos Himla Soodyall, Spencer Wells, Stephen Oppenheimer en Luca Cavalli-Sforza met behulp van gesofistikeerde dataprogramme en moderne navorsingstegnieke verrig ten einde ’n stamboom vir alle lede van Homo sapiens saam te stel en migrasiepatrone te beskryf, uiters waardevol. Dit kan daartoe bydrae dat genetiese siektes makliker bekamp word, maar vertel ook meer van die mens se uittog uit Afrika om die res van die Aarde te bevolk.

Wetenskap staan sentraal in hierdie soektog na kennis. “Sonder ’n toewyding aan wetenskap en rasionaliteit in sy besonderse domein, kan daar geen oplossing wees vir die probleme wat ons oorspoel nie. Tog, die Yahoos rus nooit nie,” som Gould die remskoeneffek wat irrasionele denke op die ontwikkeling van kennis en die verdrywing van bygeloof en mites uitoefen. Vir hulle vertel die fossiele van Afrika geen verhaal nie en is Gould se karakterisering in die kol.  

  • George Claassen is a South African science journalist and author of Geloof, bygeloof en ander wensdenkery: Perspektiewe op ontdekkings en irrasionaliteite (Protea Boekhuis Publishers).

 

Written by Super User